Teen die tyd dat ek 6 jaar oud was het ek al goed geweet hoe om in my eie leefruimte te oorleef. Ek het vreeslik baie gepraat en vrae gevra, maar niemand het die holte in my siel raak gesien wat gevul moes word nie! Net ‘n bietjie lig, dit was al wat ek nodig gehad het!

Een van die familielede het homself aan my klein dogtertjie lyf begin vergryp. Eers net teelepels vol op ‘n slag, maar spoedig was dit ‘n bak vol… Die maan was donker donker donker en onheilspellende wolke het dit nog verder verduister.

Met die tyd wat verby gly het ek stiller geword, myself in die fantasie wereld van storie boeke laat vergetelheid vind. Die familie was tog te bly dat ek nou begin “groot word” het, maar min het hul geweet van die verlore kind wat in die donkerte van haar eie siel verdwaal.

Vandat ek kan onthou was die donkermaan siklus deel van my lewe.

Kan mens depressief gebore word? Ek ken nie die antwoord op die vraag nie, maar ek vermoed die donkerte het op my geboortedag al om my gevou. Waar ek as verwerpte klein bondeltjie mens vir my lewensasem geveg het wat die naelstring om my nek uit my probeer wurg het, kon ek nie aanspraak maak op ‘n mamma se koestering nie, want sy was self gewikkel in ‘n lewensstryd om te bly leef na die traumatiese geboorte.

“‘n Anderste kind”, “‘n dromer”, “met ‘n verbeelding soos jy nog nooit gesien het nie” was maar van die beskrywings wat deel van my geword het.

Instinktief het ek nie gedeel dat ek soms verskriklik eensaam en baie donker gevoel het nie. Ek het eerder net in my eie kleine leef wereld weg geraak…..

Donkermaan…die donkerste tyd in die maan se siklus. Selfs die sterre speel bang-bang wegkruiper in die alles oorheersende donkerte.

Dit is ‘n donkerte wat taai en versmorend om jou vou. Jou weghardloop- bang maak en verlam ter selfder tyd.dis die donkerte wat klein kindertjies vrees en veediewe begeer, want dan kan hulle ongesteurd hulle wrede gang gaan.

Die donkerte maak kwalik plek vir enige lig. Diep binne jou weet jy die son gaan weer skyn, maar terwyl mens in die donkerte verdwaal is dit ‘n vae wete….