Teen die tyd dat ek 6 jaar oud was het ek al goed geweet hoe om in my eie leefruimte te oorleef. Ek het vreeslik baie gepraat en vrae gevra, maar niemand het die holte in my siel raak gesien wat gevul moes word nie! Net ‘n bietjie lig, dit was al wat ek nodig gehad het!
Een van die familielede het homself aan my klein dogtertjie lyf begin vergryp. Eers net teelepels vol op ‘n slag, maar spoedig was dit ‘n bak vol… Die maan was donker donker donker en onheilspellende wolke het dit nog verder verduister.
Met die tyd wat verby gly het ek stiller geword, myself in die fantasie wereld van storie boeke laat vergetelheid vind. Die familie was tog te bly dat ek nou begin “groot word” het, maar min het hul geweet van die verlore kind wat in die donkerte van haar eie siel verdwaal.